We’ve updated our Terms of Use to reflect our new entity name and address. You can review the changes here.
We’ve updated our Terms of Use. You can review the changes here.
/

lyrics

SIT DIT AF

is jy ook gatvol vir als wat jou foon jou bied
van hoe dit jou per twiet herwaarts hiet
en verniet gebied, jou gedagtes giet
per Google-georkestreerde order van debiet?

in daai geval, sit daai slimfoon van jou af,
want die glim van daai slimfoon wat vir jou dim maak

is jy ook nou dommer as toe jy jonger was nie,
voller van kommer as toe jy eenvoudig was nie?
en is jy deesdae die verbeeldinglose kwas
wat volgens sagte bevele volg en verf
waar jy eens die kunstenaar was, die individu?

die slimfoon se glim dié maak vir jou dim,
so sit dit af, vriende, kom ons sit daai slimfone van ons af

al is jou vinger op die elektroniese pols van sake
is jy elders ’n skim, selfs ’n morhoon
die slaaf van ’n slanke slimfoon (skerm ongekraak)
jou sprankel verdrink, verstar jou kake
in die geknars van die algoritme
jou droë dopsels oë gerig op die
fantastiese fasade van ’n likeable droom
geketting aan die kletterjoel click-through ads
na aanlynwinkels en Zuckerberg-zones
waar die klank van jou kredietkaart
vir ’n ander ou lyne laat sny en dalk
ook laat droom van ontsnap
van dit alles en vlug
na waar die visarend roep
en soepel vlerkklap
hier in Afrika

ja, sit dit af, sit dit af, want selfs
die president van Amerika
regeer ons uit die palm van sy hand
met die swaai van die towerstaf van sy foon
word kwaad gestook in Damaskus, Pjonjang
en Indonesië, (en selfs hier in Darling) die land van blatjang
die Wildekus van beeste en krewe
en tussen turksvy en coyotegat op die
oewer van die Rio Grande teen
die grens van Meksiko
waar hy mos nou
’n muur wil bou

maar kan jy glo,
dié vent, ene Trump
kan jy afsit met jou duim
net só!

so sit dit af, sit daai slimfoon van jou af,
kom ons sit daai fone af
ja, en die tirannie van
die blokketting Bitcoin
kan jy wegraap met die plant
van rape en radys
heel organies
sommer in die agterplaas
by jou huis

sit dit af, vriende,
en sien die son
daarbuite en in die harte
van jou vriende en jou vrou
jou kinders en jou man
sal jou meer waardeer
wanneer jy weer
weet wat vanaand
te ete is sonder om
gou te gaan soek
na ’n sopresep
op BBC Food
of hoe?
(want is sop dan nie iets wat jy uit jou kop uit behoort te kan maak nie? almal kan sop maak, jy hoef nie jou foon te vra hoe om sop te maak nie, maar tog – daar staan ons en Google ‘hoe maak ’n mens sop?’ jy moet dit uit jou kop uit kan maak – sit af daai slimfone... sit dit af!)

dit is ook onmoontlik om met jou foon
hoe slim of oud, koud of goud,
woorde te kan skryf of te hoor soos hierdie:

silwer in die leivoor
pouveer in die pad
vol sterre en sing
soos spreeus sou
in die sipresse soos nou
val elke vonkel lig
in die lukwartpitswart oë

en:

brons teen die berg
palms teen die bors
die koedoes is op kerk
en die besembosse lui
tot net die suidewind waai
kloof af, (en straaf af, en op met die R27) en koebaai

ja, sit dit af vriende, sit dit af (ons het nie regtig ons fone nodig om te ry tot by Darling nie, maar tog, daar sit jy by die huis en jy maak foon oop en jy sê ‘ek wil ry na Evita se Perron’ en dan druk jy ‘OK, start’ en dan kry jy directions, al was jy al 10 of 20 keer in jou lewe hier in Darling, moet jy nog steeds vir jou foon vra hoe om in Darling uit te kom, dis heeltemal onnodig – ek het dit self gedoen, guilty as charged – almal weet hoe om in Darling uit te kom, jy hoef nie jou foon te vra nie – sit dit af – as jy nou regtig verdwaal vra vir ’n ou langs die pad, draai jou venster af en vra ‘hei, weet jy waar’s die regte pad Darling toe? ek is in Atlantis, ek het verdwaal, is ek diep onder die see?’ ‘Nee, Darling is net in die pad op, ry verby Mamre, jy gaan daar uitkom, jy gaan oraait wees ou maat.’)

so sit daai slimfoon van jou af, maak vir ’n slag weer sop uit jou kop uit. Hei, mis jy jou vriende? Jy hoef nie net hulle fot’s te like op Facebook nie, jy kan hulle ook bel of na hulle huis toe stap en aan die deur klop en sê ‘hei, hier is ek, ek het jou laas gesien by jou troue, ek het nie geweet jou kinders is al so groot nie’ – maar hulle gaan seker besig wees op hulle slimfone, besig om games te speel... sit dit af, vriende, sit dit af

credits

from Last Days Of Beautiful, track released March 3, 2019
Recorded live at The Darling Voorkamerfest (Festival), Darling, Western Cape, 2 September 2018 by Dirk Hugo. Toast Coetzer (vocals, lyrics), Stephen Timm (drums), Michael Currin (guitar). Photo: Toast Coetzer.

license

all rights reserved

tags

about

THE BUCKFEVER UNDERGROUND Cape Town, South Africa

The Buckfever Underground is a South African spoken-word band. They perform poetry in English and Afrikaans with experimental music. Current members Toast Coetzer (vocals), Stephen Timm (drums), Michael Currin (guitar). Founder member: Gilad Hockman. Also: Jon Savage, Righard Kapp. Founded in 1998. On Instagram @thebuckfeverunderground ... more

contact / help

Contact THE BUCKFEVER UNDERGROUND

Streaming and
Download help

Redeem code

Report this track or account

THE BUCKFEVER UNDERGROUND recommends:

If you like THE BUCKFEVER UNDERGROUND, you may also like: